Vader, vergeef my
Die meeste mense vra die Jirre natyds om vergiffenis, na hulle gedoen whatever hulle seker nie moes nie. Maar in die geval van Karel du Toit het dinge effens andersom gewerk. Want was hy nie so vermetel om sonder meer natyds op daardie vergiffenis aan te dring, dit asse soort vanne reg te beskou, soos die meeste van ons maar doen nie. Nee, Karel du Toit het bloot daarom gehoop.
Ook was dit nie al wat vir ons vertel watter soort mens Karel du Toit nou eintlik was nie. Want iets anders wat hom van my en jou onderskei het is die feit dat hy reeds vooraf om daardie vergiffenis gesmag het, nog voor hy gedoen wat hy gedoen het. En let asseblief baie duidelik daarop presies wat Karel Du Toit se laaste woorde was, naamlik: “Mag God my ook vergewe.”
Ja, inderdaad was Karel du Toit ‘n baie nederige mens, iemand wie in sy skrywe aan God ook vir sy familie, en vir jou en vir my, die mensdom innie geheel versoek het: “Ek vra om verskoning vir wat ek verkeerd gedoen het.”
En al wat Karel du Toit toe gedoen het was om sy vrou te vermoor…. dis maar al...
Hermien du Toit was op ouderdom 78 nege jaar jonger as Karel, en glad nie gesond nie. Tewens, die suikersiekte wat sy onder lede gehad het, het veroorsaak dat haar niere nie meer kon funksioneer nie, dat sy skaars kon sien, en permanent aan ‘n rolstoel gekluister was. Ook het sy geweldige pyn verduur. Maar die ergste van alles was dat sy gereken het haar menswaardigheid word aangetas met die dat sy elke 2de dag dialise moes ondergaan. Want die dialise was die een iets is wat nie deur haar liefdevolle, sorgsame, 87 jarige Karel gedoen is nie. Dis dan ook daar langs die dam waar die polisie die uitgebrande wrak gekry het, en vir Karel….
En elke aand, wanneer hulle mekaar vasgehou het, daar in hulle woonstelletjie, het Hermien gevlug na die verste hoekie van haar hart, daar waar sy nie eers vir Karel toegelaat het nie. En dan het sy gedink aan hoe onregverdig dit is dat Karrel se hele wese om haar wentel, dat as sy nie meer daar is nie hy mos die paar jare wat hy nog oor het hier oppie aarde in vrede en rus kan uitleef.
O, Hermien was listig, baie listig, en het sy vir Karel baie goed be-arbei. Uiteindelik kon sy hom dan oortuig om haar die ewigheid in te help, want dis mos wat sy wil he, en immers is hy mos lief vir haar? Immers wil hy haar graag gelukkig sien, en om na die hiernamaals te verhuis, daar waar die radio dominee self gese het geen pyn of hartseer bestaan nie, is mos wat haar gelukkig sal maak? En dis net ‘n paar jaar, dan is hulle mos weer bymekaar?
Karel het sy Hermien lief genoeg gehad om haar elke wens vervul te sien. Maar, dit was nogtans met ‘n baie swaar hart, ‘n gebroke hart dat hy geskryf het: “Mag God my ook vergewe” , net voor hy sy Hermien, die enigste rede vir sy bestaan af na die kar toe gedra het, Saam het hulle na die dam toe gery, daar buite Pretoria, en het Karel hartverskeurend gehuil toe hy sy Hermien vir oulaas soen, en die enjin aanskakel om haar te vergas. Ja, dit moes absolute hel gewees het toe Karel, net om seker te maak, die kar daarna aan die brand steek...
Maar Karel sou nooit weer ‘n woord sprak nie, nie hier oppie aarde, in elk geval. Want sien, Karel het daar innie dam gedryf. Het hy sy Hermien so goed geken, haar so lief gehad, dat hy sonder haar wete in daardie verste hoekie van haar hart kon inkruip, en presies geweet het wat en hoekom. En toe het Karel sy eie planne gemaak…. hy het homself gaan verdrink.
Die hele ding werk eintlik so: hulle was twee mense wat die goddelikheid vannie Bybelse verklaring : “Geen groter liefde het hy….“ hier op die aarde verwesentlik het. Ja, hulle het mekaar liewer gehad as die lewe self, hulle eie lewens, want elkeen was bereid om sy of haar lewe met die grootste liefde op te offer vir die ander.
En vra ek nou hier, in die openbaar: “Vader, vergeef my dat ek ek in hierdie geval nie vir Karel veroordeel omrede hy die sesde gebod oortree het nie.”

What's Related